[Die Burger] ‘n Picasso in SA opgeveil

Die eerste oorspronklike kleurkryttekening deur Pablo Picasso (1881 – 1973) wat in Suid-Afrika opgeveil gaan word, kom op 7 Junie onder die hamer by Stephan Welz & Co. se veiling van dekora-tiewe en beeldende kuns hier.

Die waarde van die tekening word op R3 miljoen tot R3,5 miljoen geraam. “Au ­Cirque”, wat in 1954 deur dié ikoniese Spaanse kubis ge­teken is, sal ongetwyfeld sterk internasionale belangstelling wek, wat pryse sal opjaag. Picasso se werke ­behaal tans toppryse in die kunsmark.

’n Werk deur Picasso het die hoogste prys tot nog toe vir ’n kunswerk op ’n veiling behaal. In 2015 het Christie’s syLes Femmes d’Alger (Version ‘O’)”, wat in 1955 geskilder is, vir $179,4 miljoen verkoop.

Veilingsverkope van Picasso-werke het in 2015 al-tesame $652,9 miljoen beloop, en in 2014 was ver-kope van sy werke tweede ná dié van Andy Warhol – $449 miljoen in ’n internasionale kunsmark van $16,1 miljard, berig Artnet, ’n New Yorkse kuns­navorsingsgroep.

Die onderwerp van die ­tekening is die elegante verhoogkunstenaars van die ­Renaissance, wat weer deur Picasso vir ’n 20ste-eeuse ­gehoor laat herleef is. Picasso se inspirasie vir rondreisende figure en ander man­like karakters in sy oeuvre kan teruggevoer word na sy Spaanse kinderdae en sy bekendheid met Cervantes se Don Quijote.

Sirkusvertoners het ook vir hom die goue era van skilder vergestalt en hom toegelaat om aan die beperkings van kontemporêre onderwerpmateriaal te ­ontsnap.

Die kunstenaar se weer­gawe van hierdie toneel was ook sy huldeblyk aan die werk van twee skilders wat hy regdeur sy lewe bewonder het: Diego Velázquez, wie se portrette van 17de-eeuse Spaanse edelmanne en swaardswaaiende konings bronne van inspirasie vir die werk was, en die Nederlandse meester Rembrandt van Rijn, wat as ’n belang­rike invloed op Picasso se werk uit daardie tydperk ­beskou word.
Besigtiging deur die publiek – Johannesburg en Kaapstad:

Vooraf-besigtiging vir die publiek in Johannesburg is by die Stephan Welz & Co.-ateljee op Nelson Mandela-plein van Donderdag 26 Mei tot Saterdag 28 Mei, van 10:00 tot 17:00. In Kaapstad sal die werk besigtig kan word by The Great Cellar, Alphen-landgoed, Alphen­rylaan, Constantia, van Woensdag 1 Junie tot Sondag 5 Junie, van 10:00 tot 17:00.

  • Katalogusse is beskikbaar by Stephan Welz & Co. se ­kantore in Kaapstad en Johannesburg en op die webwerf www.stephanwelzandco.co.za.
2016-05-18T11:28:30+00:00

About the Author: